Lees Psalm 117.
Prys die Here, alle nasies, loof hom, alle volke (v 1).
Here, ons lof is dikwels net ’n versie lank. Dalk twee.
Ons smeekgebede, daarenteen, duur ’n leeftyd;
“asseblief” is die asem van volslae afhanklikheid.
En U luister ons lewe lank na alles wat ons U bring –
die soebat en gesanik, die verbale uitryg van derms.
Sonder ophou skiet ons gebedjies na bo, pyl ons vrae
op U af; konfronteer ons U met onbegrip en soms gewone
stiksienigheid. Onnoselheid. Opregte koppigheid.
Hoeveel maal skryf vrees ons kommunikasie met U voor.
Hoe moet my retoriese “waarom ék?” U nie gek maak nie.
Ons bid om reën al waai die wind steeds wes.
Ons skel op die somerson en raas oor winterryp.
Ons bal ons vuis vir die seisoen se hael
en kla ons lewe om oor droogte in woestyne.
Ons stapel ons versoeke soos leë sakke voor u troon;
aanvaar dat U dit op versoek sal vul, betyds.
Ons gooi ons begeertes voor U oop soos ’n ou kombers.
Doodseker dat U dit soos Kersvader sal volmaak,
netjies toevou, strik, en op die gevraagde tyd aflewer.
En dit maar moet aanvaar as ons ’n rukkie daarmee
speel, matig vermaak word … en dan belangstelling verloor.
Maar wanneer dit tyd word vir lof is ons erg bedrywig
en o so vernaam, en gebruik die jongste snelskrif
of ’n erg outydse telegramstyl om dit vinnig af te handel:
’n eenminuut-oordenking vir besige mense.
Here, ag, Here,
U het my flentertjie lof nie nodig nie.
U leef nie van my dankdruppeltjies nie.
U is God. Verhewe.
Vergenoeg.
En genadiglik vergewensgesind.
Amen.
Barend Vos