Lees Psalm 118:1-4.
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! (v 1).
Ons kan slim woorde ad infinitum gebruik
om “ewigheid” te probeer verduidelik.
Ons kan prentjies met leestekens maak …
Ons kan verduidelik, verklaar;
ons kan ons reeds ruim raaiskote vermenigvuldig.
Uiteindelik sal ons bes gee, Here, ons futiele pogings
laat vaar. Ons beperkings lê oop en bloot:
God rym nie met die som van ons bot verstand nie.
Daarom, Here, is lof ons allerbeste antwoord.
En aanbidding die enigste werklike kans wat ons kry
om iets aan U te sê. Wat meer kan ons doen om u trou
te beskryf en dié ewigdurende genade te vier?
Ons begewe ons buitendien op ’n oorbekende pad,
welwetend dat ander mense in ander tye reeds die weg
gebaan het. Dat geslagte lofsangers daarna dit snuifgetrap het;
dat ons nou op weinig meer as moeë woorde aangewese is.
Vergewe ons dus die clichés en herhalings, Here.
Dit is nie die gevolg van gebrekkige eerbied of vanweë slordige
denke nie. Ons formulerings volg bloot ’n eeue oue spoor:
dié van klinkende hallelujas wat lank reeds
deur klippe uitgeroep word.
Neem dan nou asseblief ons liedjie aan,
met die verwondering wat vlak daarin lê.
Ag, en vergewe die eenvoud waarmee dit
verwoord is, Here, en die voorspelbaarheid
van die wysie; ons het net soveel woorde
en veel, veel minder note.
Hemelse Here, o God onbeperk:
Ek kon nog nooit enige grens genoegsaam verskuif
om U na behore te vereer nie. Ook nou stuit ek
op die versperring van my verste verbeel. Daarom sê ek
bloot – en effens afgehaal:
Loof, loof die Heer met lofgesange …
Amen.
Barend Vos