Lees Psalm 118:5-9.
Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen? (v 6).
Here, in ons benoude bestaan het ons gereeld
’n behoefte aan u ruim perspektief op sake.
U sien mos verder en dieper.
U ken ons omstandighede
en ons vyande
– gewaan én werklik –
beter as ons.
Ons leef immers in u koelte.
Ek roep U gereeld in
– asof U nie die skadu aan my regterhand is nie! –
en sê: “Here! Kom help!”
Dan antwoord U my deur my los te maak van vrees.
U maak vir my plek, selfs nader as gewoonlik aan U.
Om op U te mag vertrou
is anders as om my op mense
– juis slimmes en belangrikes – te verlaat:
Dit is nie net u trou wat van heeltemal ander gehalte is nie;
dit is ook u manier om my onder u beskerming te neem …
Kyk, Here, almal weet dat hooggeleerdes en hooggeplaastes
eintlik net hul eie saak wil bevorder;
hul naam wil hoog hou,
en daarom is my noodkreet
wat hulle betref bloot ’n middel
tot ’n doel. Vir hulle is ek net ’n nommer;
’n stowwerige lêer in ’n onderste laai.
Maar vir U maak ek saak.
My vrese geniet u voorkeur.
Dit is ook algemene kennis dat U van altyd af
die blakerende son van my af wegkeer.
Deesdae weet almal dat U ook in tye soos dié
my hoog optel en my in ’n nuwe ruimte laat leef:
die sagte ligkring van u beskerming.
Amen.
Barend Vos