Lees Psalm 118:10-14.
My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my gehelp (v 13).
Wanneer alles dreig om my te oorweldig, Here,
roep ek na U: “Te veel, Here!
Dit het te veel geword vir my!”
Dan gryp U in. U slaan hard.
U breek mensekrag
en vernietig ’n oormag.
Ek verkies om aan u kant te wees.
(Het ek ’n ander keuse?)
U dink nou wel nie soos ek nie
en u weë is nie myne nie.
Boonop laat u tydberekening
in my oë veel te wense oor.
Maar U moet dit asseblief met my uithou –
ek leer stadig maar seker hoe U dink,
wanneer U oordeel, en wat vir U saak maak.
En hoeveel u ingrype regtig vir my beteken.
Ek pleit dus by U: Wees geduldig met my, Here.
U groot dade is te oorweldigend vir my beknopte begrip.
U ferm hand in hierdie situasie het alle teenstand gesmoor.
Ook dié in my skeptiese hart.
Al wat nou vir my oorbly, is om daarop terug te kyk,
daaroor na te dink, en my te verwonder aan U.
Ek voel nog die houe wat hulle op my laat neerreën het …
Ek wonder hoe voel húlle vandag.
Ek ruk steeds snags wakker wanneer my lyf
die stampe en stote so helder onthou.
Ten minste slaap ek deesdae weer.
U het vuur onder hierdie nagmerrie gemaak,
Here; my las het in rook opgegaan.
En alles het nou tot rus gekom, soos as
wanneer wind gaan lê.
Amen.
Barend Vos