Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sien my kom; hoor my sing!

Lees Psalm 118:15-21.

Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof (v 19).

Wie oë het om te sien en ore om te hoor,
Here, húlle sal U loof. Vir hulle is u Naam
’n juigkreet; u dade word haarfyn onthou.
En hulle, u begunstigdes, sal sorg dat die geslagte
wat kom ’n lied oor hierdie Naam der name sing.

Ek hoor hulle praat; ek luister hoe hulle sê:
Here Here! Ek hoor die ontsag, die dankbaarheid,
verligting,
vrede.

En nou voeg ek met groot vrymoedigheid my stem daarby:
O Here, hoe hoog was die vlam, hoe warm u asem.
Hoe skroeiend die vuur!
Hoe vas was ek nie,
hoe geheel sonder hoop.

Maar U red my uit die inferno. U trek my uit ’n brandende graf.
U bring my tot op die koel grond. En toe plaas U my voete
op die eerste trappie van die poort van geregtigheid.
U gooi die deur wyd oop: ’n nuwe pad lê voor.

Kyk! Die lig skyn in die donker;
die duisternis kon dit nie oorweldig nie.

Deur daardie poort sal ek gaan; in daardie lig moet ek loop.
Dit is die pad na u geregtigheid; die pad van waarheid
en van troos.

Ek dra swaar aan my eerbied, Here;
dankbaar sal ek dit voor U kom lê.

En só begin ek ’n reis
waar lof die koers aandui
en die bestemming “liefde” heet.

Sien my kom, Here Here!
Hoor my sing!
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.