Lees Psalm 118:27-29.
U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing (v 28).
Telkens as ons op ’n reis terugkyk,
sien ons die spoor wat ons gelaat het.
Kronkelend tussen duwweltjies deur.
Verwonderd oor die baie rusplekke
wat so geil teen die roete lê, Here.
Ag, en ons het dit nooit waardeer
toe ons daar aangedoen het nie …
Ons het soveel tyd met beuselagtighede,
struwelinge, lawwe rusies gemors.
Ons het te lank beplan, té gedetailleerd gereël
en te min daarvan geniet.
Ons is boonop bitter spyt oor die klippe waarmee ons
ons medereisigers van ons wou weghou.
En oor die omhelsing van ons oorvloed padkos –
wat toe mos muf geword het.
Maar ons dank U, Here, vir die baie stof tot dankbaarheid
wat by terugskoue steeds talmend oor die roete hang:
’n Herinnering aan U wat elke swaar tree saamgestap het.
Wat elke gesprek moes aanhoor en alle klagtes moes hanteer
en ontelbare struikelblokke uit die weg moes ruim.
Hoe dikwels het U omgedraai
en eers die sukkelaars gaan versorg.
Hoe het U hulle nie moes optel en verder dra nie …
O Here, U het met soveel liefde na hulle omgesien.
Ons wat graag anderpad kyk, het skaam gekry.
Later by U afgekyk en geleer hoe lyk deernis
in die vol son van God se genade.
Kyk dan nou hier, Here!
Kyk hoe bring ons darem ’n boomtak of so
van die laaste oase. En kyk hoe waai ons dit,
heen en weer, en weer …
Hoor hoe roep ons almal op vir ’n reünie,
’n onthou-jy-nog. ’n Dankie-sê vir U.
Amen.
Barend Vos