Lees Psalm 119:1-4.
Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here (v 1).
Ag, Here, hoe hoog word die dwarslat tog gestel!
“Onberispelik” …
Ek weet dat ek nooit daar kan bykom nie;
dit is veels te hoog vir my.
Ek haal nie die paal nie.
In alle opsigte skiet ek ver tekort.
En, Here, hoe raak dit dié wat u bepalings
nakom en U “met hul hele hart soek”?
Hoe, presies, kry hulle dit reg dat hul hart
deurentyd heel bly en boonop reëlmatig klop?
Ék stuit op die hoë hindernisse op hierdie pad;
steek noodgedwonge vas; wonder of daar ’n kans
vir omdraai is. Of ’n ander uitweg – gelyker, ’n breër pad.
Maar dán, weer, is ek erg onseker oor die bestemming …
Ag, Here! Het U dan regtig geen plek vir my nie?
Is daar nie iewers langs die pad ’n manier
waarop ek aanvaarbaar vir U kan word nie?
Sal dit dalk help as U my gereeld berispe?
As U my só uiteindelik “onberispelik” maak?
En hoe sal dit uitwerk as U my halwe hart neem
en dit stukkie vir stukkie heelmaak –
en dit dan net so vir U vat?
Ja, raas dan maar met my, Here!
Ruk my reg – al is dit ook effens hardhandig.
Kry my net op koers.
Sekuur op die pad wat U my wys.
En herstel asseblief my flenterhart.
Dit het maar sleg uitgerafel omdat ek dit
deur die jare heen aan soveel dinge opgehang het.
Ek kan dit nie self regkry nie, Here;