Lees Psalm 119:9.
Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! (v 9).
Here, ek is deesdae so sonder taal of tyding
wanneer ek tussen jongmense kom.
Alte dikwels staan ek – skaapagtige glimlag en al –
met ’n mond vol tande en hande wat nie weet
waar om te vat en waar om liefs te los nie.
Die jonges praat ’n ander taal.
Hulle vertel grappies wat ek nie snap nie
en maak opmerkings oor dinge waarvan ek niks weet nie.
Buitendien is ek oortuig daarvan dat hulle niks
van mý stoere oortuigings wil weet nie; hulle volg
sonder twyfel hul eie kop. En as hulle dit stamp, sal daar
– soos dit nog altyd was – ’n ma wees wat die eina soen
en ’n pa wat sê toemaar, toemaar, my kind.
Maar, Here, soms betrap ek een van hulle, die jonges,
op heterdaad dat hy na my kyk. Dat hy onder sy ruie kuif deur loer
om te sien wat ék doen. Hoe ek optree wanneer dinge rof gaan.
Hy luister my ook af, vermoed ek, wanneer ek praat.
Hoe ek mense aanspreek wat nie juis gesogte geselskap is nie.
Dan skaam ek my, Here – heeltemal te laat –
vir dit wat ek so nonchalant aanvang en die manier
waarop ek my mond uitspoel as ek kwaad is.
En ek wonder of hy, die jonge, hom ooit weer
die moeite sal troos om na my raad te luister.
Sal hulle hoegenaamd binne hoorafstand wees
as ek hulle aansê om hulle aan U te steur?
As ek sê u woord
– anders as myne –
is ’n erewoord; niks minder nie
as ’n liefdesbrief met hul adres daarop?
Hoe swaar sal dit vir hulle wees
om u stem te hoor
as hulle myne reeds te lig bevind het?
Amen.
Barend Vos.