Lees Psalm 119:10-16.
Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld (v 14).
Here, ek dink ek het reeds bo alle twyfel vasgestel
dat ’n mens na U kan verlang. Soos na ’n geliefde
sonder wie jy nie die lewe sal of wil oorleef nie.
Deesdae probeer ek, soms effens desperaat
op soek na iets wat my werklik bly maak,
ook uitvind presies wát my na U toe lok.
(Ek het immers, ná jare se skade en skande,
wys genoeg geword om te weet dat ek nie
vanself na U toe sal gaan nie – nee, nooit.)
Dit is u woorde wat my lok.
Dit is daardie stem wat so duidelik na my roep.
Wat dan nie bloot tot by my ore kom nie, maar diep
indring en hom ook in my binneste kom tuismaak.
Dit is dít wat my hart vol maak.
Ai, Here, en nou is dit nie my mond
wat daarvan oorloop nie, maar my oë …
Die vervlakste huilerigheid!
Maar die grens tussen huil en lag, het ek ook geleer,
is dikwels bloot ’n membraan waardeur u trooswoord
dring om nuwe blydskap na u sukkelende kinders te bring.
Ja, dit is ongetwyfeld u woord wat my deesdae bly maak;
dit is dié hemelse geur wat dubbel en dwars in my kom
nesskop en my nooit begewe en my nooit verlaat nie.
Nou vul dit ook my gedagtes,
vind ek tot my vreugde uit.
Omvorm dit my strompelgang
tot vaste voetstappe
op die pad agter U aan.
Wat ’n heuglike wete!
Wat ’n onvergeetlike belewenis!
Amen.
Barend Vos