Lees Psalm 119:17-20.
Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie (v 19).
Here, dit is welbekend dat u kinders
nie werklik tuis in hierdie wêreld is nie.
Daarvoor is ons lewenstyl klaarblyklik te vreemd:
U eis van ons om te vergewe
wanneer ons te na gekom word.
U vra ons om tog te vergeet
as vermeteles uit hul pad gaan
om rusie te maak en kwaad te stook.
Ons word eenkant toe geskuif
as ons konsekwent gehoorsaam is.
Ons pas nie by daardie mense se skema in nie
en werk nie saam aan hul agenda nie.
Ons kán “nee” sê …
Waarskynlik is u kinders se vernaamste eienskap
dié dat hulle van net één ding seker is:
Sonder U gee ons nie ’n tree nie.
Daarom is ons erg hinderlik.
Terwyl húlle ligvoets oor gewigtige sake huppel
en bo-oor swaar beproefde mense loop,
staan en soek ons na die spoor wat U trap.
Wanneer hulle gou-gou ’n plan beraam
of maklik-maklik van ’n vorige een afsien,
bly sit ons verleë om te hoor
of daar nie dalk ’n woord van u kant af kom nie.
Ja, ons is afhanklik van iemand wat ons nie kan sien nie
en ons verlang raad wat nie met ’n groot stem na ons toe kom nie.
Ons verlaat ons op verhale van voorkomende ingryping.
Ons gee ons oor aan ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Ons verwys ademloos na liefde sonder voorwaardes
en trou sonder einde. Ons sê: In sy wet proe ek
my vreugde; in sy woord lê al my rykdom.
Wêreldvreemd, voorwaar!
lui die siniese beskuldiging.
Die eretitel.
Amen.
Barend Vos