Lees Psalm 119:21-24.
U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers (v 24).
Here, U weet dat ander mense se raad op sy beste
maar ’n onseker besigheid is. Veral die goed bedoelde soort.
Dié word gewoonlik met soveel selfversekerdheid aangebied
en daaroor word met selfs groter entoesiasme navraag gedoen:
“Dit het toe gewerk, nè?” is die eenvoudige aanname.
Of dié ontnugtering: “Jy het dit toe nié gevolg nie!”
Hoe durf ek raad van mense aanvaar wat nie éérs
deur die filter van u sorg is nie, Here! Hoe kan ek
aandag gee aan ander oplossings as ek nie allereers
na u wil verneem het nie? Dan haal ek my mos
dieselfde soort ellende op die hals as hulle
wat hul eie kop volg en tog so gretig hul hande was
en sê: “Dit is die Here se wil.”
Nee, dit kán tog nie, Here …
Ek kan my nie blootstel aan slimmigheid of my
op sogenaamde ingeligtheid verlaat nie. Ek het geen
begeerte om die onderwerp van bespotting of ’n voorwerp
van vernedering te word nie. Ek waag nie sulke kanse nie.
Mense wat na goeddunke handel met wat U gee
en in werklikheid u voorsienigheid misbruik,
is nie my aandag werd nie.
Hulle wat doelbewus eenkant sit en heimlik
plannetjies maak oor hoe om by U verby te kom,
verdien nie ’n tweede kyk nie.
Hoor my dus mooi, Here:
Ek vra na u wil.
Kyk na my: Ek spits my ore vir u stem;
ek kom op aandag vir u bevel.
U woord is wet én waarheid –
die enigste goeie nuus
wat ek ken
en ál raad waarop ek durf bou.
Amen.
Barend Vos