Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Leer my, Here!

Lees Psalm 119:25-32.

Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel (v 27).

Here, ek het ’n dringende behoefte
aan kennis van u weë;
u verwagtings van my;
u wil vir my lewe.

Ek sien baie dinge wat net van U af kan kom,
en ek verstaan g’n snars daarvan nie.
Ek weet nie of U besig is om iets aan my te wys,
of van plan is om my daardeur iets wys te maak nie.
Ek is só bang ek beoordeel u optrede verkeerd,
of projekteer bloot my begeertes
op wat U voor my oë doen.

Ja, ek ken myself en ek weet dit is die maklikste strik
om in te beland: Om te sê die Here loop voor …
en dan my eie begeertes te volg.
Om vroom te beweer dat U my lei, en dan val ek
oor my voete om mense gedienstig te wees.

Nou wil ek my opnuut aan u wil verbind
en my koers weer volgens u voetspoor peil.
Ek wil die opwinding van u leiding beleef
en die vaste sekerheid van u trou geniet.

Here, ontvang my dan asseblief
aan die universiteit van Gods koninkryk!
Berei my só voor op die uitdagings
van tyd en ewigheid.
Ek is slaggereed vir die omvang van die leerplan;
vir die eise aan verstand en hart.
En ek weet ek kan op u geduld reken.

U weet dat ek nie kan belowe dat ek sal slaag nie
– my punte sal straks maar beroerd wees –
maar om heeldag aan u voete te mag sit
en saans by die lig van nuwe insigte
na te dink oor dit waarin U my onderrig,
sal alles oortref.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.