Lees Psalm 119:33-40.
Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou (v 33).
Here, reken U regtig dat ek hierdie reis sal kan volhou?
Dink U eerlikwaar dat ek enduit op dié pad sal vasbyt?
U moet maar sê, Here, want U ken my beter as ekself.
En wat ek van my weet, maak my nie optimisties nie …
Ek ken my ywer en my opregtheid en my doelgerigtheid –
én my vinnige moedverloor
én my verdagte motiewe
én my onbetroubaarheid
én my geneigdheid om te dwaal.
Miskien is die onvermoë om van verleiding weg te kyk
die pynlikste porsie selfkennis wat ek reeds versamel het:
Ek staar my dikwels vas teen vinnige voordele
en tydelike plesiertjies wat uiteindelik meer pyn bring
as wat ek ooit kon voorsien of hanteer.
En só word ek keer op keer deur my gewete
aangekla en telkens uitgelag:
Jy sal dit nooit regkry nie – nie jý nie!
Dit is hoekom ek nou by U kom vra:
Here, sál ek dit regkry?
Is daar hoegenaamd ’n kans?
Ek het al soveel kanse gehad.
Hou asseblief my oë op U gerig,
soos dit ’n volgeling betaam.
Help my om altyd gereed te wees
wanneer U my roep.
Gee my die moed om nee te sê.
Leer my om my slimmighede af te leer.
Laat my my aandag toespits op u drome vir my.
Troos my met die sagte binnekant van u handpalms.
En, Here, bemagtig my
om swak te wees by U.
Amen.
Barend Vos