Lees Psalm 119:41-48.
Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge met vrymoedigheid aanhaal (v 46).
Here, sommige mense praat makliker oor U
en u seëninge in hul lewe as wat ander dit
kan doen. Reken my maar by laasgenoemdes.
Ek is mos een van dié wat dikwels met ’n mond
vol tande staan wanneer daar gloeiend
van God en sy gawes getuig word.
Dit is nie dat ek onbewus is van u goedheid nie – verre daarvandaan!
Dit is beslis ook nie dat ek ondankbaar is nie – hoe kan ek wees?
Dit is maar net … dat ek nie juis ’n prater is nie.
Nie ’n “getuiger” nie.
Beteken dit dat daar iewers fout is, Here?
Is ek minder vir U werd as wat ek moet wees?
Ly u koninkryk skade vanweë my toe mond?
In daardie geval moet U asseblief ingryp en die sprakeloosheid
ophef waarmee ek geknel is. U moet vir my woorde gee,
en vrymoedigheid. En ’n maklike glimlag.
Niemand wat ek al hoor getuig het, doen dit dikmond nie.
Leer my dan om skaamteloos alles te vertel wat ek van U weet.
Alles wat ek van U ontvang. En om sonder aansiens des persoons,
tydig en ontydig, te praat oor die enigste Here.
Selfs voor konings en base.
Ag, Here, en as dit u wil is, besiel my dan
met ’n leefwyse wat sal pas by wat ek sê.
Laat my vrymoedigheid rym met my doen en late.
Maak my getuienis méér as mondelinge bravade.
Goue woorde is dikwels goedkoop.
Aan die ander kant: Is my huidige
mompelende lof en skroomvallige fluisteringe
voor U dan nét versuim?
U het tog ook hakkelaars besoek, Here,
hulle mettertyd beter toegerus,
en hulle vertrou …
Amen.
Barend Vos