Lees Psalm 119:57-64.
Die aarde is vol van u troue liefde, Here. Leer my u voorskrifte (v 64).
Here, U weet goed wat die gehalte van my beloftes is.
U ken die kortstondigheid daarvan; die wisselvalligheid.
Maar vir wat dit hierdie keer werd is: Ek het my voorgeneem
om die betekenis van u voorskrifte vir my lewe te vind.
Om gereeld na u wil te vra.
Om doelgerig u guns te soek.
Daarom het ek op my spoor teruggegaan,
in my geheue gaan krap – én my gewete –
ten einde vas te stel waar alles skeefgeloop het.
Hoe dit dan gebeur het dat ek op hierdie plek
in my lewe beland het. Hoe dit gekom het
dat ek so goddeloos verstrengel geraak het.
Ek vra my eerlik af: Hoe is dit dan, jong?
Jy weet tog van beter. Jy is tog nie só grootgemaak nie …
Dan wag ek bewerig op die antwoord
wat my kop moet formuleer
en my mond hardop sê
sodat my ore dit sal hoor
en my hart wakker maak.
Sedertdien gaan dit heelwat beter, dankie, Here.
Min dinge is so insiggewend soos pynlike selfondersoek
en so bevrydend soos meedoënlose eerlikheid.
Al bring ook dít allerlei nuwe vrae.
Maar ek kla nie. U het my lanklaas hoor huil.
Kyk, ek staan selfs snags op, gooi die luike oop
en roep buitentoe, vir almal om te hoor:
“Júlle!” skree ek. “Luister ’n bietjie hier, my vriende!
Die Here se opdragte is deurdrenk van sy liefde;
dit drup van sy goedheid!”
U hou nie op om ons teen U vas te druk nie. Totdat ons ryp
geword het vir die nuwe denke waarmee U ons seën.
Amen.
Barend Vos