Lees Psalm 119:65-66.
Gee my goeie insig en kennis, want ek stel my vertroue in u gebooie (v 66).
Ag, Here, ’n mens leer maar swaar …
en stadig! Hoe bitter lank het dit my gekos
om agter te kom dat ek niks vir U kan wegsteek nie.
En nog langer om te leer dat ek dit regtig nie hóéf
te doen nie. Hoeveel jaar het dit vereis om uit te vind
dat U toe nié die Groot Paaiboelie is nie. Dat ewige
vreesbevangenheid oor U onnodig is. Dat dít jou vreugde
roof, al jou vrede steel en jou soveel lewenslus ontneem.
Hoekom moes ek soveel goeie jare met skuldgevoelens
deurbring? Verlam deur vrees en bewing – wat niks
met ’n heilige ontsag te doen gehad het nie?
Dit was die gevolg van bangmaakstories
deur mense wat nie raad het met hul eie
worstelinge nie. Dit was hulle wat aan my
’n grynslaggende god verkondig het,
’n sadistiese slaner,
’n wreedaardige wreker.
Dat ek uiteindelik nou van beter weet, is u reddingswerk.
Dit is U wat my oë oopgegrawe en my verstand opgehelder het.
Sodat ek kan sien en verstaan en langsamerhand begin glo
dat U dit net goed met u kinders bedoel. Dat U met sagte hande
aan ons vat en U opreg bekommer oor ons sorge en ons seer.
En dat U dan beslissend optree om ons daarvan te verlos –
al vra dit soms dat U drasties ingryp.
Al sny dit pynlik diep.
Voortaan, Here, sal ek net op u woord reageer.
Alle sekerheid waaraan ek ’n behoefte het,
sal ek by U gaan soek. En my daarop voorberei
om volop vreugde daarmee saam te ontvang.
Goeie oordeel en ware kennis
kom net van U af, Here.
Met vrede daarby ingesluit.
Amen.
Barend Vos