Lees Psalm 119:67-72.
Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer (v 71).
Liewe Here, dit is ook maar goed dat niks
ooit tevergeefs is nie: geen goed en veral
geen kwaad nie. In u sagte hande word “goed”
omvorm tot “baie goed” – en aanhoudend beter.
En “kwaad” word in u krag omgedwing
tot nut – al is dit tussen baie trane deur.
U weet tog hoe ek op die bose pad saamgeneem is
en hoe bedenklik daardie weg is.
Dit is mos ’n paadjie wat met lyke besaai lê:
Dié op wie daar getrap is, neergesien is. Op wie gevloek
en geskel is. Dié wat in sogenaamde liefde tereggewys is.
Almal slagoffers van ’n bitsige tong. Almal grusaam vermoor
deur ’n mond met ’n dodelike vry-sê.
Doringtakwoorde.
Vlymskerp lem.
U het my daaruit gered. U het my gegryp
en vir iets beters gereed gemaak:
om u aanwysings goed te kan lees.
Om die koers wat U wys, te kan volg
en behoorlik aan ander te kan oordra.
Ek ken immers nou die alternatief.
Ek weet hoe sleg daardie pad is
en hoeveel ellende dit tot gevolg het.
Ja, ek was dáár – en ek dra die skuld
van al die vergrype wat daar gepleeg is.
Maar U het dit anders kom maak.
U het alles omgebuig – my oopgebuig –
om, oortuig, ’n nuwe rigting te kan aanwys.
U voorskrifte het my baken geword; u wet
my woord vir dié lewe. Die visie wat U my gegee het,
laat my met nuwe oë na U kyk, en na u mense.
Ek spreek hulle nou op ’n ander manier aan
en ek praat deesdae ’n sagter taal:
kosbare woorde, by U geleer.
Amen.
Barend Vos