Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die werk van u hande

Lees Psalm 119:73.

Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm; gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan (v 73).

Here, ek is die werk van u hande
wat U nooit laat vaar nie.
U gee nie prys wat U gemaak het nie.
U hande staan vir niks verkeerd nie.
En U waak jaloers oor wat U so knap gedaan het.
U werk is u trots.

Só het U my behou, ten spyte van al my pogings
om eiehandig reg te kom. Om my eie potjie te krap,
self te besluit, spiere te bult. Ag, Here, hoe dikwels
het ek daarna gestreef om as kampioengelowige
gekroon te word! As wenner van die geloofresies
in my eie kop én – het ek my verbeel – in ander se oë.

En hoeveel keer het ek gestoei om weg te kom.
Om my los te wikkel uit die greep
wat my kamma “ingeperk” het;
sogenaamd my ywer “gesmoor” het.

Soveel keer het ek genadig misluk en het U my
geboei gehou. Vas aan U. Mettertyd het u genadige
houvas op my so verstewig dat die wens om uit te breek
verflou en later verdwyn het. Deesdae ken ek my plek beter
as ooit. U nabyheid is my troos, u vingermerke op my is my trots.

Leer my steeds, Here, na u hand.
Onderrig my volgens u begeerte.
Breek my eiewilligheid.
Ondermyn die slimmigheid wat ek so graag uitstal, afwys.
En wys my ú wense. Gee my genoeg insig daarin.
Maak dan van my ’n betroubare getuie;
’n skynende lig deur U aangesteek.

En maak my ’n doener van u wil, Here!
’n Naprater van u woord.
’n Lewende bewys van God se moeite
met ’n mens wat op die hande gedra word.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.