Lees Psalm 119:74.
Dié wat U dien, is bly as hulle my sien, want ek vertrou op u woord (v 74).
Here, op die een of ander manier
het ek ’n rolmodel geword.
Ja, daar is mense wat na my kyk om iets
van u werk en wil te sien. Ek weet nie
hoe dit gebeur het nie, want ek is tog geen
voorbeeld van blink voorspoed nie. Geen
glinsterende glimlag het my gesig nog ooit
versier nie. Daar drup nie poësie
uit my getuienis nie en my gebede is kinderlik
en kragteloos. My dankbaarheidsdade is niks
watwonders nie en my ywer vir u saak ook
maar so-so. Trouens, almal wat die moeite doen
om twee keer te kyk, sal die merktekens
van ’n sukkelaar sien. En hulle wat behoorlik luister,
hoor bloot die stameling van ’n worstelaar.
Daar kan dus maar een rede vir hul verwondering wees:
Die verbysterende feit dat U juis struikelendes tegemoetkom
en met twyfelendes ’n gesprek voer. Dat U onaansienlikes kies
om u koninkryk te adverteer, en kragteloses om u Naam te dra.
Ja, dalk vind hulle hierin troos: Die verwondering oor ’n God
wat op eg-menslike wyse sy hart aan ’n skeptiese wêreld wys.
’n Here wat soms vreemde maniere verkies om te verklaar:
Hiér is Ek!
Hopelik het hul verwysing na my as God
se begenadigde dus minder met my te doen
en alles met die gewer daarvan. Hopelik stel ek
U nie teleur nie en hopelik maak my versuim
hulle nie agterdogtig jeens u planne nie.
Nogmaals, Here: Hier is ek –
bewerig, maar bereid
om te skyn soos U my rig.
En te praat waar U my plaas.
Amen.
Barend Vos