Lees Psalm 119:75-80.
Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is ’n teken van u trou (v 75).
Is dit so, Here, dat daar vir swaarkry ’n rede is?
’n Doel met elke slegte ding wat gebeur?
Dan moet ons mos ook vra wie dié rede bepaal het
en wie die doel so ywerig en sonder mededoë najaag.
Dan, Here, het die storie straks meriete dat jy nie ver
hoef te soek na die oorsaak van gebrokenheid
en die swaar hand wat so genadeloos toutjies trek nie.
Dan is dit mos U wat sonder meer
in die beskuldigdebank geplaas word.
U wat op dié aanklag tereg staan:
“God is die aanstigter van wat sleg is.
Hy is die skepper van siekte en swaarkry.
Die Here is die onderhouer van kwaad.
Almagtig is Hy!
En boos.”
Ek kan dit eenvoudig nie glo nie, Here.
Dit vloek teen alles wat ek oor U geleer het
en wat ek uit ondervinding van U weet.
Dit is niks minder nie as die allervroomste laster,
onversoenbaar met die troos, beskerming, seën,
sorg, goedheid, vergifnis
en die glimlag …
en álles wat ek al by U gesien
en deur jare heen van U ontvang het.
As dit egter só is dat U my seerkry in u hande
geneem het, dit gewurg het, nek omgedraai het;
dit omgebuig het tot iets wat dit nooit vanself kon wees nie,
en as U dit om dié rede gebruik het om ’n doel te bereik
wat net U in u allergoedheid kan regkry, dán,
slegs dan, het my seerkry betekenis.
Dán sal ek berus.
Amen.
Barend Vos