Lees Psalm 119:81-88.
Hoe lank moet ek nog so lewe? Wanneer straf u my vervolgers? (v 84).
Soms voel dit my, Here, asof ek niks meer
as ’n groot ontsnapper is nie. Die een wat
altyd net-net ontkom aan almal wat my voorlê
en daarop uit is om my te laat ontspoor.
My hele lewe, lyk dit my, word in beslag geneem
deur noodmaatreëls, desperate planne, benoude spronge.
Álles om die strikke te probeer ontglip wat op my pad
gestel is. Waar gretige oë sit en wag dat ek vasval.
’n Maklike prooi.
Ek is moeg gehardloop, Here.
Óp gejaag. Vodde.
Tot niet.
Sal U my dan nie genadig wees en die vervolgers van my wegkeer nie?
Wil U tog ingryp, hulle voorkeer en vra: Vanwaar dié vermetelheid?
Dat ek ook weet wat presies hulle teen my het;
hoekom hulle so meedoënloos op my spoor is
en al die moeite doen om my tot ’n val te bring.
Wie is ek, Here, dat ek in hul visier bly?
Is dit omdat ek ’n soort volgeling van U is;
een wat probeer om volgens u wil te leef?
Dan kan U hulle mos reghelp en vertel
dat my navolging maar op wankele voet is.
Dat my gehoorsaamheid onder verdenking is.
Dat my dissipelskap gebrekkig is
en my getuienis sonder krag.
Dit mag natuurlik ook wees dat dit eintlik U is
teen wie die woede gerig is. Dat Ú hul werklike
teiken is. U wat weet –
wat ook alles van húlle weet.
In daardie geval, Here, neem hulle en hul bloeddorstigheid
asseblief vir u rekening. Tree daadwerklik teen hulle op.
Reken met hulle af.
Amen.
Barend Vos