Lees Psalm 119:89-91.
Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe (v 91).
In ’n wêreld wat al hoe dringender dreig
om te wankel, Here, moet dit die toppunt
van troos wees dat U dit gegrondves het.
Dat in ons weghol-paniek, U die leisels
stewig in u hande hou. U het immers u
woord gegee, en dit in die vastigheid
van aarde en hemel geanker. Wis en
seker is u erewoord; U sweer daarby.
Wie is ons dan om aan U te twyfel? Watter aardse reg het ons
om oor u beloftes te wonder? Om ons ore aan ongeloof te verpand?
Ag, Here, laat ek dan eerlik wees: Ek sukkel mos om mense
te glo en ek het probleme met beloftes. Ek is al soveel keer
ingeloop en ek loop nou katvoet vir sogenaamde waarborge.
Ek is agterdogtig oor maklike woorde en vaste versekerings.
Ja, Here, ek het sinies geword. Maar ek betaal ’n prys daarvoor:
My smalende aanmerkings oor mense se integriteit maak nuwe
vyande van indertydse vertrouelinge. ’n Ellendige skeptisisme
het oorgeneem. My bitterheid het nie brieke nie.
Ek vermoed, Here, dat ek die afgelope tyd al vaster geboei is
deur ’n hiperkritiese houding: ’n Lewensuitkyk wat my noop
om twyfel die wegspringplek vir elke oorweging te maak,
van agterdog ’n eerste woord. En van onsekerheid ’n god.
Bevry my hiervan, Here!
Knoop u beloftes in my binneste vas.
Anker u woord aan my siel en verstand.
Roep hemel en aarde tot kosmiese getuies
van u trou aan hierdie klein skepsel van U.
En maak my ’n draer van hierdie onbeweeglikheid.
’n Oortuigde, kop op ’n blok, van dié ongelooflikheid.
Dan sal my hart lig in my klop:
My sekerheid lê immers nie dáár nie.
My vastigheid heet “Here”.
Amen.
Barend Vos