Lees Psalm 119:92-96.
Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie (v 96).
U woord ondervang alle woorde van begin
tot einde. U woord is altyd die eerste een.
U sê is die laaste sê. U het nie ons opklaring
nodig nie; verklarings met ander woorde laat
geen reg daaraan geskied nie. Ons kommentaar
is bloot dit: nadenke oor u woord; uitgesponne
uitbreidings op ’n onverdunde waarheid.
Spreek dan nou die woord, Here, sodat ek kan hoor
hoe klink u ongebreidelde wil. En sodat die goddeloses
dit ook verneem, skrik, wegdeins, en my dadelik uitlos.
Want ek weet uit ondervinding dat u woord ’n swaard is.
Dat dit twee snykante het en dat dit skade aan ego’s aanrig.
Dat dit ook mý hart in al sy verraderlikheid oopkloof –
vir U om te sien waar alles fout gaan, hier in die setel van sonde.
Maar ek weet ook dat u skerp woord veelvuldige nuwe moontlikhede
blootlê. Dit verwond nie net nie; dit maak ook gesond.
Dit gee moed vir nuwe grense wat heelhartig getoets kan word.
Doen dan tog vir my ’n goeie woordjie by almal
wat ’n invloed op my hart en sy begeertes en seerkry het, Here!
Vra hulle om genadig te wees, om geduld te hê.
Want broosheid hou nie stand teen onnadenkende praatjies nie.
En daarom is u sagte woord altyd my toeverlaat.
My enigste brokkie ewigheid.
Want alles is begrens. Alles verloop tussen begin
en einde. Met die laaste halleluja is als afgeloop.
Het alles weggesyfer.
Finaal uitgeloop.
Amper alles …
Want in die begin was u woord reeds daar.
En aan die einde sal net dít
saam met U hier oorbly.
Amen.
Barend Vos