Lees Psalm 119:105.
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad (v 105).
Ag, Here, hoe ouer en broser ek word,
hoe meer besef ek die onmeetlike waarde
van eens vanselfsprekende dinge.
Soos my voete.
Daar was mos die dae toe ek geloop het
soos ek wil – kaalvoet as dit kan.
En net waar ek wou. My hart kon beswaarlik
byhou wanneer my voete die pad gevat het.
En my gewete het dikwels ver agtergebly …
Met verloop van tyd het my hart swaar geword
en het my gewete my oplaas ingehaal. Noodwendig
het my voete later begin skuifel. Was dit nie meer
so geneë om my soos altyd oral heen te dra nie.
Ook maar goed so, as ek eerlik moet wees …
So gebeur dit, Here, dat ek nou dringend op soek gaan
na ’n nuwe woord van U. Een wat ’n duidelike lig
op ’n ander pad sal maak. Woorde wat soos lampe
my huiwerige voete op ’n vreemde weg sal neem.
My vaardighede hier is helaas maar skraps,
soos U wel weet. U raad is dus meer as welkom;
u hulp sal dankbaar aanvaar word. Dit word egter laat,
o Heer; ons sal moet gou spring.
Ek kan tog nie meer my kaalvoetdae
terugkry nie – dit besef ek maar te goed.
Daarom vra ek mooi dat U asseblief aan my
en my voete ’n spesiale soort beskerming sal gee.
Enigiets wat volgens U sal pas sal heeltemal
in orde wees, dankie. Enigiets wat die vreemdheid
van die roete besweer en die donkerte verjaag.
Enigiets wat nie op my insig steun nie.
Enigiets, Here, wat geskoei is
op die lees van u woord.
Amen.
Barend Vos