Lees Psalm 119:106-112.
U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my ’n vreugde (v 111).
Here, daar is min dinge in die lewe wat blywend is
en straks nóg minder wat mense soos ek bly maak.
Vreugde kom in vergeetbare stukkies.
Belaglike
brokkies.
Nou wonder ek: Is dit net ons met die melancholiese
geaardheid wat ons laat verlei tot uitsprake soos “die lewe
is bloot ’n gestadigde dood”? En waar kom ons daaraan?
Is ons met die swart gal gebore? Of kom dit uit die lewe
se bitter bottel waaruit ons moet sluk en sluk en origens stilbly?
“Blywend” en “blydskap” hou aan om my te ontwyk.
Dit gly by my verby; dit glip tussen my grypende vingers deur.
Meermale kom staan ek met leë hande voor U en vra:
Wát is dit wat goed is? Wát is dit wat stand hou?
Daar is sóveel teenstrydighede …
U woord loop tog nie u kinders plat nie?
U wet maak mos nie dood nie?
U voorskrifte is vir die lewe, nie die dood nie.
Dit is vir ons ’n ewige erfenis, ’n vreugde.
Hoekom is ek dan nie bly nie, Here?
Ek hou tog vol met die koers wat U vir my gekies,
gewys het. En ek probeer my glimlaggende bes
om in ’n goeie afloop te bly glo. Maar U weet
hoe die ware lag in my hart stol en my verwagtings
ook daar ’n stille dood sterf. Ek weet nie meer wat my
te doen staan nie. En ek durf nie gaan lê nie.
(Hoe staan ek dán weer op?)
Hier kniel ek dus voor U.
My gesig vertrek in ’n fronsende gebed:
Hou my vas.
Laat my lag.
Leer my hoop.
Amen.
Barend Vos