Lees Psalm 119:129-136.
My trane vloei sonder ophou omdat die mense u wet nie onderhou nie (v 136).
Here, dit grief my dat daar mense is wat U
en u woord nie ernstig opneem nie.
Vir hulle is die diens aan God bloot ’n erfstuk
van hul ouers; ’n gewoonte wat oor geslagte
heen aangeleer en voortgesit word. En soos dit
maar met erfgoed gaan, word dit deurgebring
totdat daar niks meer oorbly nie. Of dit word
bloot verduur ter wille van die sentiment.
Uiteindelik beland dit iewers in ’n vertoonkas;
agter slot en grendel. Veilig, skadeloos.
Waar dit niemand kan aanstoot gee nie,
maar darem op goeie dae uitgehaal en omgestuur
kan word vir ’n vinnige rondte nostalgie,
’n vae verlange.
By my is dit mos anders, nie waar nie, Here?
U weet tog van my nood die kere dat ek nie gou
genoeg ’n antwoord by U kan kry nie.
Hoe ek soms letterlik hyg na asem
omdat ek nie goed genoeg ingelig is nie.
Hoe my keel toetrek – pure angs.
Spanning. Volledig afhanklik van U.
U begryp dus dat mense se argelose omgang
met U en u woord my grensloos ontstel.
Dat wanneer godsdiens niks meer as ’n weeklikse
gewoonte geword het nie, dit my dwars
in die krop steek sodat ek vergeet
van die liefde wat ek aan hulle verskuldig is.
Dat ek nie eens meer onthou dat ek presies
weet waar hulle vandaan kom nie.
Dat ek gerieflik vergeet
dat ék ook daar was.
En steeds,
dikwels,
daar vertoef.
Amen.
Barend Vos