Lees Psalm 119:137-144.
U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe (v 144).
Here, die mense wat niks van U wil weet nie,
is mý mense; ons is familie van mekaar.
Daarom het ek geen rede om hulle as minderwaardig
of “minder heilig” te ag nie. Om hulle aan u genade
op te dra, is my heilige plig –
en ook om dán daaroor stil te bly.
As ek ’n woord oor iets durf rep,
kan dit niks anders wees nie
as fluisterende dankbaarheid
omdat U my gevat het soos ek is.
My afkoms en agtergrond ten spyt.
En omdat U my grootgemaak het op ’n dieet
van woorde – veral ú woord. Totdat ek ’n punt
bereik het waar ek nie meer sou oorleef
as ek nie daarvan eet en drink nie.
As ek nie gereeld diep teue neem
om só my lewensdors te les nie.
Met verloop van jare het dit al so deel van my
bestaan geword, so diep in my vesels ingetrek,
dat ek nie meer aldag weet waar begin my eie gedagtes
en waar eindig die woord waarmee U my voer nie.
Ook maar goed so. Of hoe, Here?
Want die alternatief is dat ek op my baadjie getakseer word –
en dié is maar verflenterd. Vol gate, soos my beste argumente.
En ek sal in baie se oë altyd ’n snuiter bly wat nie ’n sê het nie.
Wat bloot verdra word vanweë die ordentlikheid van sommige.
Here, help my om nooit bang te wees
vir harde stemme en raserige redenasies nie.
Om voortdurend aan ’t soek te bly
na die blydskap wat u woord aan u kinders beloof.
En dit dan nederig,
sonder triomf,
en onbevange uit te deel.
Amen.
Barend Vos