Lees Psalm 119:153-160.
Neem tog in ag dat ek u bevele liefhet, Here, hou my in die lewe omdat U my liefhet (v 159).
Ek maak staat op u oë, Here,
om beter te kan sien as ek.
Verder, dieper, meer intens.
Maar wanneer U my sien, o Heer, moet u kyk
tog sag wees. Liefdevol, vol deernis en begrip.
Want ek probeer regtig hard – U weet dit. U sien
my pogings raak; my aanhoudende probeerslae
om weg te kom van die suigkrag van hulle wat my
vir hul saak opeis en vir hul sentimente wil inpalm.
U sien hoe ek sukkel om daar weg te kom omdat ek
nog altyd die lawwe idee gehad het om hulle te wil
beïndruk. Om deur hulle as swaar genoeg geweeg
en belangrik genoeg geag te word. Hoe hard het ek
deur jare heen probeer om in hul goeie boekies te kom …
En hoeveel selfkastyding lê anderkant hul smalende
verwerping! Saggies is mos ’n harde woord as iemand ewe
vertroulik kom fluister dat jy toe nie goed genoeg is nie.
Daarom verlaat ek my nou volledig op u oë wat beter
kyk as enige mens s’n, en u oordeel wat u kinders nooit
stief behandel nie. U groot hart wat ook plek het vir
almal wat op ander plekke nie geslaag het nie.
U ken die waarheid wat diep in my binneste skuilhou:
die begeerte om aanvaar te word. Om goed genoeg te wees.
Kyk tog op ’n sagte manier na my, Here.
Sien my raak vir wie en wat ek is.
Deur die voorgee,
verby die maskers,
tot in die seerplekke.
Genees dan asseblief die wonde.
En gee my ’n lewe wat ek
voor u oë alleen hoef te leef.
Amen.
Barend Vos