Lees Psalm 119:161-168.
Ek loof U soveel keer elke dag oor u bepalings. Hulle is regverdig (v 164).
Here, as ek na ander gelowiges luister,
wonder ek – nee, twyfel ek – of my lof
en dank aan U naastenby voldoende is.
Daar is van u kinders wat ’n lofprysende lewe lei.
Hulle loof U uur ná uur; elke dag, die hele jaar deur.
Hulle lewe is lof en lof is hul lewe.
Hoe benydenswaardig is dit …
Dan is daar dié wat ’n vaste roetine volg.
Wat alles só reël dat hulle U op vasgestelde tye kan aanbid.
Hulle loof U ordelik. Hoe wonderlik is dit nie!
Sommige sê U is vir hulle in alles en almal – en oral.
Hulle bring dus hul dae in ’n spirituele waas deur.
In ’n omgewing deurtrek met goddelikheid.
Hoe fassinerend is dít!
En dan is daar … ek. (Dalk is daar nóg soos ek. Ek weet
nie eintlik van hulle nie. Ons soort is maar stillerig wanneer
ander oorborrel oor hul spesiale verhouding met U.)
Ek leef van een flentertjie hoop na ’n volgende.
Teen my beterwete vertrou ek.
Voetjie-vir-voetjie loop ek na ander buitestanders.
Ek waag dit beswaarlik om lief te hê.
Daarom kom lê ek my huiwerigheid hier by U neer.
Kyk, ek staan bloot voor U; die wantroue fronsend
op my voorkop gekeep. Ek het mos nooit veel te sê nie,
behalwe om my afhanklikheid van U uit te sug.
Hier is dus geen lopende lofuitinge nie, Here.
Ag, en vergewe my die gebrek aan dissipline.
Spreek my vry ten spyte van my geluidlose omgang met U.
Wat is daar verder te sê?
Sal dit help as ek U in alle vertroulikheid
van my liefde vir U vertel?
Amen.
Barend Vos