Lees Psalm 119:169-176.
As ek sou ronddwaal soos ’n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie (v 176).
Here, ek weet van kleins af dat U my oppas.
Dit is steeds in elke storie wat van U vertel word
en was op al die prentjies wat altyd rondgewys is.
Van daardie tyd af is ek geleer dat ek na U
kan roep as daar moeilikheid is. En dat ek
by U kan inkruip as ek bang is.
As die son weer opkom, moet ek net die “dankie!”
onthou. Eenvoudig, dié kindertekening van U …
Soos almal het ek ook grootgeword en nuwe beskermers
leer ken, en ’n ander soort troos. Die donker het my
nie meer bang gemaak nie en dankie-sê het ’n middel
tot ’n doel geword. My prentjie van U het vervaag,
verteken geraak en mettertyd tussen ander oustories verdwyn.
Ek is deesdae tevrede met my lewe –
wel, op ’n manier …
Ek is by, en op koers, en meestal op stryk.
En ek het alles – wat hopelik sal hou so lank ek leef.
Soms onthou ek wel dat niks my sal ontbreek nie.
Sien ek weer groen weivelde, waters waar rus is.
Wonder ek nogeens hoe dit is as jou siel verkwik is
en langs watter roete spore van geregtigheid loop.
Maar dan skud ek alle dal-van-doodskaduwee-dinge
van my af. Gaan was ek die olie uit my hare en vee
vererg die beker se oorloop van die gedekte tafel af.
Ag, maar wanneer ek in die bed lê en heeltemal te laat
agterkom dat u goedheid en guns my steeds agtervolg,
dán keer my kleintydse gebedjie weer na my toe terug:
“Soek tog u kleine skapie weer op!
Bring u lammertjie tot in die kraal!”
Amen.
Barend Vos