Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Te lank woon ek hier

Lees Psalm 120.

Te lank moes ek woon by mense wat vrede haat (v 6).

Here, wat is daar te doen as die meetsnoere
vir jou nié in lieflike plekke geval het nie?
Wat maak jy as jy jou op ’n plek en tussen mense
bevind waar jy en jou sienings met agterdog en, ja,
argwaan bejeën word? Waar dit vir mense makliker
is om jou verdag te maak en desnoods jou woorde te
verdraai ten einde hul oordeel te regverdig?

Dit bly vir my moeilik om te begryp, Here,
dat daar mense is wat ’n behae in onvrede het.
Hulle gaan uit hul pad om moeilikheid te maak
en verheug hulle in die mislukkings van vredesoekers.
Hulle besef nie dat die dag sal kom wanneer hulle
nie meer hier sal wees nie – en hul kinders die prys
sal betaal vir hul heldhaftige uitgesprokenheid.

Daarom, Here, wil ek maar vra
of U nie ’n plan sal maak dat ek kan wegkom nie.
Te lank woon ek hier tussen mense
wat nie hul woorde wíl tel of hul standpunte in
heroorweging neem nie. Wat ’n hekel het aan redelike
argumente. Wat die spot dryf met die sagter stemme.

Ag, Here, nou weet ek mos wat U dink.
U sal sê: Maak ’n verskil daar waar jy is!
En: Is die anderkantse gras régtig so groen?

Dan sal ek maar – verskoon tog my sug –
weer op my óú holrugperdjie klim en vra:
Here, maak hulle stil!
Kry hulle asseblief van my nek af.
Reken U tog self met hulle af.
Gee my krag vir elke dag se kruis.
Gee my vreugde in die klein dingetjies.

En maak dit dan weer,
as ek mag vra,
vir my lekker om hier te woon.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.