Lees Psalm 121.
Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie (v 3).
Here, hier by ons rond is daar min berge;
meer vlaktes. Sommige sê selfs woestyn.
Dit neem nie weg dat ons hier
daagliks na U opkyk nie – welwetend waar
ons hulp vandaan kom. U het tog ook dié
dorre streek gemaak. Ook vir ons neem U
onder u vlerke. Ons wat soms skoorvoetend
agter U aan trek; ons wat dit tog so nodig
het dat U nougeset op ons kom en gaan let.
Daarom is dit wonderlik om te weet dat U
u aandag nie ’n oomblik laat glip nie.
Laatnag, wanneer ons waaksaamheid
verslap het sodat ons ’n slaapdronk
prooi geword het, dan bly U op.
En kyk U met deernis na ons,
u slapende, vuilerige woestynkinders.
Wanneer ons dan ontwaak en kragtig en o so
oormoedig die dag aanpak, dan vorm U ’n skans
teen die onvermydelike gevolge van ons verwaandheid.
So volg U ons stilweg – van ligplas tot skadukol;
van vroegdag tot laat. Sit U ons agterna
as ons onderdeur die draad kruip en keer U
wanneer ons ons hand na verbode vrugte uitsteek.
Plaas U ’n wag voor ons mond.
Knoop U ons gewete vas.
Moet tog nooit u beskermende hand van ons
af terugtrek nie, Here! Ons lewe hang daaraan.
Wanneer ons vol ywer optrek om ons roeping
te vervul, moet U ons lei. En as ons voetseer
terugkeer, nie seker of ons aan u verwagtings
voldoen het nie – ontmoet ons tog in liefde.
En moet asseblief tog nooit wegkyk as ons
– moeg en desperaat en vol selfverwyt –
na U opsien nie.
Amen.
Barend Vos