Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Pelgrimslied

Lees Psalm 122.

Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe” (v 1).

Here, om in die kerk te kom is ’n voorreg.
Al is ek nie meer honderd persent seker
dat ons daarheen gaan om, soos almal eens
vas geglo het, “die Here te ontmoet” nie.
U is mos altyd by ons, nie net tydens ons
mooi-aantrek-stilbly-kerk-toe-gaan-dae nie!

En, Here, vergewe my, maar ek sukkel mos
ook met die ou sêding dat die kerk “die Here
se huis” is. Ek wonder tog of U vasgevang
kan word in ’n skemerige gebou. En boonop
ses dae lank agter ’n koster se slot en grendel
sal vertoef. Skadeloos tussen kansel en kandelaar …

U ou volk het met soveel verwagting Jerusalem
toe opgetrek, tempel toe. Na U toe. Daar was
soveel vreugde in hul liedere. Die eerbied wat
uit hul gebede gestraal het, is vir ons tot nou toe
’n voorbeeld. Hul sug na vrede eggo steeds
die wêreld oor. Hul vaste voorneme om alles
wat goed is na te streef, kla kansvatters soos ons aan.

Maar, Here, die opgewekte gesingery help
my beswaarlik met my terneergedruktheid oor
die heilige plekke en sogenaamde godshuise wat
ek deesdae sien. Ek deel nie in daardie vrolikheid
nie en nie eens naastenby in die optimisme nie.
Ek wonder trouens of dié lied vir my vandag nog
van belang is. Ek wonder wat ek daarmee kan doen.
Ignoreer? Allegoriseer? Liefs verbyblaai?

Dalk moet ek bloot die uitgesproke eerbied neem;
die vredesgebed daarby sit. Die verwagtings en vreugde
stewig verpak; die voorneme om goed te wees behoorlik
vasmaak. Alles dan op ’n donkie laai en my mense roep.
Sodat ons sonder versuim kan koers kry
na ons Jerusalem: na ons Here se huis.
Dalk leer ons langs die pad boonop ’n pelgrimslied.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.