Lees Psalm 125.
Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd (v 2).
U het klaarblyklik lang arms, Here!
Van dié soort wat wyd oopmaak en ver kan reik.
U omarm u kinders met ’n enkele vatslag.
U koester hulle só dat hulle niks anders verlang nie.
Hulle praat graag van u omvattende sorg –
en dan is dit geen skerpsinnige woordspel nie.
Hulle is maar té bewus van die verreikende gevolge
wat u erbarming op hulle en hul kinders se lewe het:
In u greep vind hulle genoeg ruimte om te dink en te droom.
Daar word waaghalsighede beplan terwyl hulle in u arms rus.
En met wat anders as ’n hoë berg sal ons U vergelyk?
Watter duideliker prentjie van God is daar vir ons
as dié van ’n kolos wat majestueus, ikonies oor stad en
landskap troon? Niemand se speelmaat nie …
Dié wat dit waag om U aan te durf, wat allerlei planne
maak om u kruin te bestyg – hul domastrantheid word met
ongeloof begroet en as die toppunt van gekkigheid afgelag.
Dit is vir ons, klein miertjies,
die heel beste om net af en toe
en met groot ontsag na die bopunt te beduie.
Dankbaar dat ons soms ’n glimp kan kry
van iets wat so verhewe is.
Here met die lang arms;
God wat soos ’n berg bly staan:
U troon hoog bo ons almal en ál ons klein kommer uit.
U neem ons vrese in besit en hanteer dit na goeddunke.
U beskut ons teen vyande en verleiding.
U skadu strek verder as wat ons ooit kan voorsien.
U gee aan ons klein wêreldjie ’n nuwe aansig, ’n ewige troos.
Danksy U, ken ons
ons plek.
Amen.
Barend Vos