Lees Psalm 126:1-3.
Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen” (v 2).
U laat ons droom, Here!
Dit is seker omdat U sulke groot drome vir ons koester
dat U ons ook vrye teuels gee om te wens.
Om met helderskoon oë “sê nou maar” te speel.
Lugkastele te bou (én te verf).
Dit is wonderlik, Here, om die lewe dromerig deur te bring.
’n Gawe van God om blink toekomsplanne te kan maak.
En ’n enorme voorreg om ’n droom te kan deel
met iemand spesiaal wat wil luister, en sal verstaan.
Ons weet dat U veel meer as ons droomgewer is.
U is ook die waarmaker van ú drome vir ons.
Juis wanneer die nagmerries ons ry
en ons stokflou gespook
ons hande in die lug gooi en wens om wakker te word,
dan wys U presies waarmee U heeltyd besig is:
Om met buitengewone haas ’n skeefgeloopte toekoms
uit te pluis; dit óm te swaai en reg te ruk
en weer aan ons terug te gee.
Dit is nou droommateriaal dié:
Wanneer die Here sy mense laat uitbars van die lag
en hulle spontaan ’n nuwe lied laat sing.
Wanneer uitbundige vreugde ’n wysie kry.
Wanneer die eens bitsige tonge ’n nuwe storie het:
“Kyk net wat het die Here aan sy mense gedoen!”
Ek sal hulle nóg iets vertel –
én wys, as hulle dan wil sien:
My Here se nuwe drome slaan my voete onder my uit.
My mond val oop.
Van pure ongeloof gaan my oë toe.
En kyk net hoe bewe my hande.
Kom kyk tog, julle!
Kom kyk hoe verras die God wat drome maak vir my!
Amen.
Barend Vos