Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ek leer stadig

Lees Psalm 126:4-6.

Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra (v 6).

Here, is geduld die grootste gawe tot nog toe?
Goeie, outydse vasbyt?
As dit so is, dan het ek nog ’n entjie om te gaan; ’n ietsie
om te leer. Ek is mos uitslaggedrewe, mededingend.
Onvermoeid, rasend, jaag ek agter resultate aan.

Boonop kan ek nie verstaan hoekom dit so lank duur
om tot die kern van ’n saak te kom nie. Ek begryp nie
gesonde mense se gedrentel nie. Ek vererg my bloedig
vir uitstellers en dié wat aanhoudend om verskoning vra
omdat hulle laat is.

Nou vermoed ek wel, Here, dat ek hier buite u grense
beweeg. Dat ek u horlosie verkeerd lees. Dat ek voortydig
die almanak omblaai. Terwyl U nog by laas maand sit
en skryf, haas ek my by U verby.

Wees tog geduldig met my, Here! Ek vorder stadig …
Moeisaam kom ek tot ander insigte. Langsamerhand leer ek
om met u bril na die lewe te begin kyk. Hoe u tempo volledig
inpas by u plan. Hoe die stelselmatige ontvouing van u wil,
die vuur in u kinders se oë aansteek –
vonkie vir vonkie.
Hoe lam litte met verloop van tyd loskom.
Hoe fronse gaandeweg in glimlagte herontplooi.

Kry tog hierdie onsinnige haas uit my uit, Here!
Leer my die dralende uitsprake van u sagte taal.
Oortuig my dat “geduld” eintlik “wag op die Here” heet.
Dat “juig” vanselfsprekend op “trane” volg omdat “God”
in u woordeboek met “troos” rym, en met “sorg”.
Dat “spoed” by “vraat” hoort.

Leer dit alles tog, Here,
vir grootmonde en tandeknersers;
vir vuismakers en uitskellers;
vir laatkommers en loodswaaiers,
soos ek.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.