Lees Psalm 127:1-2.
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs (v 1).
Dit is ’n moedelose woord dié, Here.
Drie lettergrepe wat jou uitasem laat. Wat jou in trane
kan laat uitbars. Wat jou radeloos en oorwonne jou hande
in die lug laat gooi. Jou laat moed opgee.
Die aftog laat blaas.
“Tevergeefs” is ’n harde oordeel, Here,
oor dié wat hulle afsloof. Diegene wat hul lewe op die spel
plaas. Wat alles in die stryd werp. Wat voluit voortstu vir dit
waarin hulle glo en waarvan hulle oortuig is. Hulle ken nie
“stadig!” nie en gun hulleself nie juis rus nie.
“Verlof” is nie in hul goeie boekies nie.
Hulle het “24/7” geskep en verwys dikwels daarna.
“Tevergeefs” is ’n wrede woord, Here,
vir hulle wat op onafhanklikheid roem en gereeld sê:
“Ek sal sélf regkom, dankie.” Of: “Nee, ek het niks nodig nie.”
Here, U vat sulke mense kort met hierdie woord.
U lóóp hulle met dié voorbeelde: bou, waak, brood verdien.
Dít is dan juis ons grootste roem – hoe ons kan uithaal en wys.
Kan uithou en presteer. Kan deurdruk en triomfeer.
Maar die heel grofste woord hou U vir laaste:
Hier sê U, in ’n enkele kort lettergreep,
hoe U, gratis en verniet, aan hulle vir wie U liefhet, álles …
“gee”.
As hulle hard werk?
Hul kant bring? Hul deel doen?
Nee. Wanneer hulle slaap.
Wanneer die onbekommerde nagrus aanbreek
van hulle wat hulle bedags aan die veldlelies verkyk
en hulle heeljaar oor die mossies verwonder.
Wanneer hulle aan die einde van ’n lang dag hul oë sluit –
en voordat hul asemhaling diep en reëlmatig word, eers
die Gewer dank.
Amen.
Barend Vos