Lees Psalm 127:3-5.
Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee (v 3).
Die mense wat seuns van U gekry het,
hou nie op om U vir hulle te dank nie.
Ja, dat U aan sterflike mense ’n nageslag gee, is ’n rede
tot eindelose dank. ’n Enorme vreugde – ál jou dae.
Die mense wat seuns van U gekry het,
dink trots aan die familienaam wat sal voortbestaan.
Aan netjiese manne, fier en regop en laggend
om ’n etenstafel. Aan vaardige hulp, gewillige hande. Sagte oë.
’n Sensitiewe mond. Versigtige woorde. Hartlikheid.
Die mense van die ou tyd wat seuns van U gekry het,
was boonop bly oor die potensiële krygsvernuf
wat rondom hul tafel versamel het: die grootse
moontlikheid van dapperheid uit dié huis. ’n Laaste linie
verdedigers van goed en bloed. Parades, medaljes.
’n Heldeakker.
Deesdae, Here, is ons dankbaar vir gesonde kinders,
wel aangepas. Sonder selfbeeldprobleme. Sonder laste
wat die lewe vir hulle ondraaglik maak. Sonder woede.
Maak ons kinders, Here, se kindwees tog ’n onverdunde
lekkerte. Maak dit ’n tyd vol speel en verbeel. Gee dat hulle
die ingeskape gawes sal slyp, en alle nuwes ywerig aanleer.
En juis oor ons seuns, Here: Maak hulle tog lief vir hul ma,
en sag teenoor alle mense. Leer hulle elke dag hoe om
uit hul pad te gaan om vrede te maak. Hoe om
ongevraag te help. Om gentlemen te wees.
En gentle men.
En hoor tog ons, hul ouers, se hartstogtelike,
nimmereindigende smeekbedes om vrede, Here.
Sodat ons seuns moedig die grense sal beproef
en dit met oortuiging sal kan oorsteek …
Sonder om deur ’n verkyker beloer te word,
of deur ’n visier.
Amen.
Barend Vos