Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

The road less travelled

Lees Psalm 128.

Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en sy wil doen (v 1).

Om die spreekwoordelike reguit paadjie te loop,
is seker nie baie opwindend nie en bied nie juis
bekoorlike moontlikhede nie. Dít is, in elk geval,
die soort storie wat in baie harte leef. “Jy moet
ook darem realisties wees,” sug hulle. “Die lewe
is vol harde werklikhede …” sal hulle sê en die
kop skud. “Goeie mense sal altyd tweede kom.”

U moet darem toegee, Here, dat diesulkes dalk
iets beethet. U moet tog weet dat ú pad deur
die eeue heen nie om dowe neute as die “smalle
weg” beskryf is nie; dit is ’n alleenpad. Vir enkele
vasbyters beskore. Só reken omtrent almal wat
dit al oorweeg het, selfs daarop begin loop het …
en toe opgegee en na die hoofweë teruggekeer het.

Op die wêreld se grootpaaie is daar volop verkeer;
dit is vol lewe. Dinge gebéúr daar. Almal moet gou
maak; alles moet vinnig verloop. Jy moet blitsig die
spelreëls baasraak. Jy moet haastig leer om jou koste
te bereken. Daar is nie juis tyd vir sentiment nie en
foute word nie herhaal nie. Hoflikheid is ’n berekende
risiko en om jou woord te hou ’n vermybare waagstuk.

Die smal, reguit paadjie, daarenteen, het eenvoudige
reëls: Gee die ander voorrang; maak dit vir hulle lig.
Deel jou padkos met liefde. Ken jou medereisigers en
hul storie. Word ’n naaste. Laat barmhartigheid jou
tot stilstand bring; gaan uit jou pad om ander te help.

Dan, Here, só lyk dit my, kom die vrugte na jou toe
aan. Om te bewonder, te pluk, te geniet. Uit te deel.
Dit word vir almal heerlik sigbaar, ook vir die onwillige
reisigers. Hulle lag: Hoe kon ek tog ooit hieraan twyfel!
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.