Lees Psalm 129.
Die Here is regverdig, Hy het die bande losgesny waarmee die goddeloses my gebind het (v 4).
Here, daar is mense wat in hul bejaardheid
steeds die merke dra wat hulle jonk-jonk
reeds opgedoen het. Dié wat hulle deur die lewe
en sy goddelose trawante toegedien is. Bloederig sigbaar
vir almal wat dit waag om te kyk. Hulle ly steeds.
En almal wat naby hulle leef,
help betaal nou nog aan die dure prys.
Gelukkig is daar ’n God wat daarin spesialiseer
om heel te maak. Om te genees. Dit is Hý wat wonde
verbind. Wat nagte lank waak totdat die koors breek.
Wat geduldig pleisters plak wat die kwaad uittrek.
Wat saggies salf smeer wat die pyn verlig.
Dan pas U boonop die littekens op, Here.
Omdat U presies weet waar hulle sit. Hoe hinderlik dit is –
en watter herinneringe hulle onwillekeurig meebring.
Die draer bly pynlik daarvan bewus, elke dag,
elke lang nag.
Soos U.
O, hoe verwens ek hulle wat sulke lewenslange skade
aanrig, Here! Hulle wat sonder om te dink
– of selfs met voorbedagte rade –
dinge sê en doen wat diep kepe in ’n brose lewe laat.
Mag hulle die erge vrugte van hul genadeloosheid pluk!
Mag daardie oes droog word in hul mond – galbitter.
Mag hulle nooit enigiemand se goeie wense geniet nie.
Maar, Here, hoor asseblief ons begeerte vir die verwondes:
Genees hulle volkome!
Sien ook na die inwendige seerplekke om.
En maak hulle tog vry
van elke stukkie woede
wat hulle wil verkneg.
Amen.
Barend Vos