Lees Psalm 130:1-2.
Uit die dieptes roep ek na U, Here (v 1).
Here, hoe diep moet ’n mens in die moeilikheid wees
voordat dit buite u bereik is?
Presies hoe ver is jy as “dinge te ver gegaan het”?
En wat sal dit my kos om weer bo uit te kom nadat ek geval het?
Ek vra hierdie dinge aan U.
U wat weet dit is nie sommer maar retoriese vrae nie.
Dit kom uit my hart, my siel.
Ja, my diepste binneste, want ek is dáár:
diep, ver.
Onder.
Ek moet weet, Here, of ek besig is
om myself te bedrieg as ek só roep.
Of ek my asem aan ’t mors is.
Totdat U my hierop antwoord, moet ek my maar
op oorlewering verlaat; op mense se stories oor U:
U, wat “altyd” hoor;
U, “wie se arm nooit te kort is om te help nie”.
Jy kan dit glo “sonder twyfel” aanvaar.
U doen dit vir u kinders, sê hulle.
En, ag, Here, hier lê dalk die knoop:
Ek is nie so seker dat ek een van “hulle” is nie.
Wat sal mý, van almal, ’n “uitverkorene” maak?
’n Stem wat gehoor moet word?
Is my diepe nood genoegsame rede vir u guns?
Roer my desperate geroep u hart op so ’n wyse
dat U dit tog sal oorweeg om af te buk en na my te reik?
My leë hand vas te gryp?
My uit te help?
Sal U?
Asseblief, Here.
Dit is donker hier onder.
Amen.
Barend Vos