Lees Psalm 130:3-4.
As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? (v 3).
Here, ek besef terdeë dat ek alle reg
op u ontferming verbeur het.
Aan my hande kleef daar onreg
en in my hart heers die woede met soveel oorgawe
dat daar geen plek vir vergifnis is nie.
Nee, ek wíl nie vergewe nie,
en ek begryp dat ek daarmee my boeie vasgesluit
en self die kettings om my bene geslaan het.
Dat ek my gevonnis het met my uitsprake oor ander mense.
Ek het ’n gevangene van haat geword.
En ek weet dit is verkeerd. Dit is niks minder nie
as ’n opstand teen u wil en ’n vergryp aan u genade.
Sonde.
Ek is so diep weggebêre dat ek geen lig sien nie.
Meestal lê ek plat op die koue klipvloer.
Bibberend, sonder raad met wat my so vasdruk –
my eie skuld.
Tel dit alles bymekaar, Here, en U kry die totale
onverdienstelikheid van hierdie tronkvoël.
En ek moet U boonop waarsku
dat ek nie vir U iets goeds het nie.
Ek kan niks in ruil aanbied vir wat ek verlang nie.
Kyk net hoe leeg is my hande …
Hoe wil U hê moet ek maak?
Sal dit help as ek U roep?
Sal U my dán kom ophelp?
My red uit hierdie hel?
En as ek erken dat ek verkeerd is?
Kyk, ek grif solank
die som van Gods gebooie teen my selmuur uit.
Amen.
Barend Vos