Lees Psalm 130:5-8.
Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord (v 5).
Here, u teenwoordigheid bring altyd hoop –
en wié kan daarsonder leef!
Waar daar hoop is, is daar lewe.
Hoop maak die vensters na die toekoms oop.
Dit bring asem in ’n verstikkende atmosfeer
en werp ruim lig op ’n benouende situasie.
U nabyheid bring die troos waarsonder
ons dié lewe nie sou oorleef nie.
Dit is meer as “toemaar, toemaar – glo net”.
Veel meer as pienk salfies op ’n omvattende seer.
U troos is ’n sagte aanraking
nadat daar hande was wat grof gegryp
en ’n skerp mond wat diep gesny het.
U hoopgewende, troostende hierwees is mos
die sekerste teken van u bemoeienis. ’n Bevestiging
daarvan dat die nag verby is; dat die nuwe môre hier is.
Die klinkende bewys dat U altyd ons geroep hoor.
Dit is net … ag, Here,
dit is die gewag wat my soms onderkry.
Ek sukkel daarmee. Ek eis altyd ’n spoedige antwoord.
Die troos wat U beloof, daag net nooit betyds op nie.
Die hoop waarna ek so uitsien, sal eers laterig tot hier kom.
Daarom moet U my asseblief vergewe
dat ek die donker instaar.
Dat ek bly speur na die geringste trilling in die stil naglug
en die eerste grys teken in die omvattende duister.
Ek weet dit is op pad.
Ja, U kom nou-nou.
Eerstelig is u Naam;
laastedonker u aard.
Ek kan nie wag nie …
Amen.
Barend Vos