Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

U beloftes

Lees Psalm 132:6-18.

Die Here het ’n eed teenoor Dawid afgelê, en dit staan vas, Hy sal daarvan nie afwyk nie (v 11a).

U het aan Dawid belowe dat U na hom en sy mense sou
omsien. U sou U by hulle tuismaak; hulle seën en versorg.
En U hét – so lees ons.
Dit is soos U is.

Maar u sorg is omvattend: U sonder nie die elite uit nie.
U oorvloed is nie in die eerste plek vir dié wat reeds
aan te veel verstik nie. U beloftes is vir die behoeftiges;
u barmhartigheid baan ’n pad vir hulle en hul nood.
Daarlangs kom U by hulle uit –
van hart tot hart.
En van u hand tot hul mond.

U sorg op soveel maniere vir soveel mense.
Dit is omdat U omvattend voorsien
dat U wyd geloof word.
En dit is maklik om U met hart, siel en liggaam te prys,
want U sorg vir hart, siel en liggaam. Ons word lekker bederf!

Dawid se storie herinner ons daaraan dat U maklik belowe
– soos dit mos by liefde werk –
en dat U dan niks daarvan dink om dit dadelik na te kom nie.
Of om dit met verloop van tyd te doen, langsaam –
omdat U weet dit is die beste.
Maar altyd gebeur dit na die letter.
Met u hele hart en met al u liefde.

En tot vandag woon U by ons in.
Seën, versorg U ons. Soos U belowe het.
Ons staan gereeld verstom voor u trou.
En wanneer ons uiteindelik ’n woord uitkry,
is dit iets eenvoudigs soos “prys die Heer!”
So alledaags soos “halleluja!” So misbruik soos “dankie”.

Maar dit kom uit ons hart, Here,
soos U sal weet.
U het immers lankal u intrek daar geneem –
soos belowe.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.