Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Broers

Lees Psalm 133.

Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! (v 1).

Here, U het dit goed gedink
om vir ons broers te gee.
Dankie!

Manne en vroue het hul broers nodiger
as wat hulle dink – veral die manne.
Want broers sal omtrent enigiets sonder ’n omhaal
van vroom woorde vir húl broers sê; hulle weet nie hoe
om doekies om te draai nie. Dalk weet hulle wel uit eie
ondervinding dat reguitpraat soms die enigste is wat werk,
wat gehoor word en daadwerklike optrede tot gevolg het.
Om dom besluite te herroep.
Of tot besinning te skok.

Broers het op ’n ander manier lief. Hulle deel nie sommer
hul gevoelens en hul drukkies nie. Sommige sal dood
neerslaan voordat hulle huil, en vloek voor hulle dink.
Hulle sê “sag” rym met “sissie” en toegee is ’n teken van swakheid.

Daar is wel ook dié wat geleer het dat cowboys nie net skiet
nie en ook nie die held in elke liewe fliek hoef te wees nie.
Dat verloor én wen ’n karaktertoets is, en jou woord jou eer.

Vir broers om in vrede saam te woon, Here, vra ’n reeks
wonderwerke. Harde klippe kap maar teen mekaar …

Maar dit is slegs U wat met een beweging hard
sag kan maak, of dit mettertyd só bewerk.
En dit is net U wat kreatiwiteit se vonkies laat spat
en die gepaardgaande energie vrylaat as broers
met mening aan mekaar begin slyp. Dit toets
soms die liefde en torring altyd aan die gemoedere.
Dan moet U weer ingryp, en groot manne sus.

Daarom dank ek U veral
vir die vrede tussen broers.
Dit is lieflik, ja,
en ’n Godswonder.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.