Lees Psalm 134.
Mag die Here jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het (v 3).
Here, daar is tog iéts aan ’n kerk wat in die nag
oop is. Waar aanbidders of besoekers kan ingaan
en gaan sit; of staan en rondkyk … bloot stil word.
Miskien is dit omdat daar dan minder mense is –
of dalk niemand nie. Ja, dalk is dit die swaarder
stilte as gewoonlik, die gewydheid, wat dieper tref.
Die onwillekeurige, onlogiese weerloosheidsbesef.
Miskien is dit die oorblyfsels van die dag wat steeds
daar huiwer – die sweet (angs?); stof (dankbaarheid?);
die uitgestotterde woorde en versweë gedagtes –
wat die koel ruimte vul en dit uitsonderlik maak.
Die spore van verskeie worstelinge lê nog daar: merke
wat deur trane gelaat word, of wat ’n hou op die heup verklap.
Die kentekens van die kontak tussen U en u krisiskinders.
En iewers, tussen toe oë en ’n knielbank, in die stilte
van ’n hanglamp en die helder lig van ’n plotselinge
gewaarwording, is daar die besef van … ’n gestalte
wat geruisloos verbyloop. ’n Geoefende stil stappie
met die paadjie af; tussen die banke deur. Verby die
lampe. ’n Terloopse kyk na die vensters wat tog op
knip moet wees. ’n Glimlag gereed vir die enkeling
wat in die kerkbank kniel. Bemoediging. ’n Uitnodiging?
Niemand minder nie as God se gesant:
Die een wat vanaand aan diens is.
Wat aangesê is om mooi te kyk en fyn te luister.
Dit is immers die Here se eiendom
wat in hierdie laataand huis kry.
Dink U ’n mens kan maar ’n bietjie water vra –
dalk van die oorskietwyn?
’n Stukkie brood, miskien?
’n Oor vir ’n klein gebedjie?
Beslis u seën duskant toemaaktyd:
u uitgespreide hande, voor die ligte doof.
Amen.
Barend Vos