Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

U huishulpe

Lees Psalm 135:1-4.

Prys die Here, prys die Naam van die Here, prys Hom, dienaars van die Here, julle wat in die tempel van die Here staan, in die voorhowe van die tempel van ons God! (v 1-2).

Here, dit is om van te sing – ja, dit is ’n halleluja-storie
dié dat ons U kan dien! Om boonop in u huishouding
behulpsaam te mag wees, gee ons rede tot lofprysing.

Hier stof ons die voorhowe van u genade af
en maak die glimlag van God nóg groter
vir dié wat U kom sien. Ons beduie na u arms
wat elke soeker sonder meer insluit. Ons lê
klem op die omvang van u sorg – met die slukkie tee;
die winkelkoekies wat ons graag aanbied.

Ons maak planne met ’n lang sous en baie
brood; ons doen wonders met ’n paar vissies.
Ons skraap die bodem met ’n lag en ’n traan.

Ons daag mekaar uit om die minste te wees en
die meeste van U te verwag. Ons teer op
mekaar se geloof en oorleef op u beloftes.
Ons het, wonder bo wonder, altyd genoeg van als.

Ook leer ons hier om U met ons hele hart te loof.
Ons sing so wat ons kan en probeer altyd wysies
en woorde maak wat ons dank verklank
én wat u Naam waardig is. Tussendeur probeer ons
om ons vra-gewoontetjies af te leer wanneer ons
handevat en tot U bid. Ons leer by voorbaat dank.

Bo alles herinner U ons daaraan om ons ore
oop te hou vir ’n skugter klop aan die deur.
Dan gee U ons die krag om op te staan;
die moed om ’n voorskoot vas te knoop.
Om binne te nooi.

Ons lewe lank leer U ons
die reëls om van u woning hier
’n tuiste te maak:
’n gesellige huis
met baie blyplek.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.