Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

U klap u vingers

Lees Psalm 135:5-12.

Alles wat die Here wil, doen Hy, in die hemel en op aarde, in die see, in al die oseane (v 6).

Here, hoe maklik is dit om U raak te sien!
Veral vir dié wat weet waar om te kyk –
óp, natuurlik! Boontoe, waar dit blou is.
Waar die wolke soos skape bymekaargejaag
word en in ’n wit bondel wag op u bevel.

Dalk roep U hulle nou verder oos; miskien stuur U
hulle weswaarts, waar die versterkings reeds opbou.
Soms bly daar genadiglik ’n klompie agter wat uitsak
en later so dun word dat ’n fris bries hulle wegwaai.

Here, U is daar waar die aksie is;
u eer lê ook in die weer
waaroor ons so dikwels praat.
U is ons hemelse Here.

Maar u krag kom veel nader aan ons
as wat son en maan en sterre kan.
Ons voel u heerskappy aan ons lyf.
U regeer met ’n vaste hand;
die geskiedenis pas in u stewige greep.
U voltrek u oordeel oor wie U wil
en soos U goeddink. Woestyntrekkers getuig
van die wonderbaarlike dinge wat U gedoen het.
Hulle wys na die grafte van dié wat u pad versper het.

U erfgename praat oor wat U hulle laat toekom het:
Die stuk land wat U hulle gegee het
om te bewoon en te bewerk.

Die bietjie wat ons van U weet, laat ons denke oorloop.
U gedonder stem ons tot nadenke.
U weerlig slaan die wêreld stom.
Die winde woed tot u eer.

U klap u vingers, en dit gebeur.
U wat beveel en dit geskied –
Ú is die Here van ons lied.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.