Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Om u Naam ontwil

Lees Psalm 135:13-14.

Die Here behartig die regsaak van sy volk: Hy ontferm Hom oor sy dienaars (v 14).

Here, in u Naam het ons deur die jare heen
méér as gebid en gevra, gesoebat en gepleit.

U Naam was ons banier in vrolike feestye
en donker stryddae. Ons het dit trots laat
wapper en openlik daarmee te koop geloop.
Dit soos ’n vlag gehys; daarmee kleur beken
en só vir almal duidelik laat weet en verstaan:
“As God vir ons is, wié kan teen ons wees!”
Ja, Here, ons het u Naam nog altyd hoog gedra.

Ook in ons klein bestaan is dit vir ons ’n skild;
ons speld dit as lapelwapen vas, om ons teen ons
eie kleingeloof te beskerm. Skryf dit herhaaldelik
op deure en glase – adverteer só ons oortuigings.
Ons sê dit oor en oor as mantra teen versoekings
en duiwelse vrese. Gebruik dit om krag aan ons
twyfelagtige beloftes te gee; aansien aan argumente.

Ons vertel graag dat ons in u Naam
gekom het tot waar ons nou is.
Dat dié Naam ons doen en late
en strewes stempel. En dat dit ons steeds,
dag ná dag, dra na waar U ons wil hê.

Ai, Here, ek is deesdae nie meer so seker
dat ons – ék – nie maar u Naam deur die jare
ydellik gebruik het ten einde sélf naam te maak nie.

Daarom wil ek mooi vra
of U my, en almal wat met my
moet saamleef, tog nie van my
skynvroomheid sal verlos nie.
Ontferm U asseblief oor my,
ten spyte van dié misbruik.

Ek vra dit
om u Naam ontwil.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.