Lees Psalm 135:15-21.
Wat die nasies het, is afgode, van silwer en goud, die werk van mensehande (v 15).
Here, verstaan U hoe dit gebeur het dat mense
afgode kan dien? Hoe iemand met gesonde verstand
hoegenaamd kan dink dat daar enige heil sal skuil
in ’n eerbiedige knieval of die neerslaan voor ’n beeld
of enige gelykenis van iets wat bo in die hemel of onder
op die aarde of, sê nou maar, in die water onder die aarde is?
Ag tog, sulke gode darem …
Bó blink, en onder
draai die duiwel rond!
Sies tog, Here, hulle is nie so gebore nie;
hulle is so gemaak. So gemaak en so gelaat staan:
knoopbekkie, los ogies, afskroef-ore, lam handjies.
Ademloos sit en staar hulle, verstom, na die lewe
rondom hulle. Verstaan daar g’n snars van.
Het niks daarop te sê of daaraan te doen nie.
Sê maar niks …
want daar ís niks.
Hulle slaag beswaarlik daarin om hul linne
binne te hou (dit is immers maklik om hulle
uit te pluis). Kinders skop hulle rond en, as
die ouers nie kyk nie, word die baba daarmee
bang gemaak. Wié sal nie vir ’n gogga gril nie!
Maar hul aanbidders is dodelik ernstig oor hulle!
Dit hyg en blaas en stotter en steun –
álles om die stommiteit te regverdig,
te behoed en te bewaar.
Ons moet goed begryp, Here, dat dié godjies behoorlik
opgepas moet word; hulle is broos en breekbaar.
Nommerpas vir ’n broeksak; om rondgedra te kan word.
Om op aanvraag opgediep en o so groots uitgestal te word.
Haai, Here! Die afgode is, lyk dit my, effens … áf.
Soos gode maar is. Én hul skeppers.
Amen.
Barend Vos